Die huidige koor is in 1986 deur Albert Morland gestig. Gedurende die afgelope 29 jaar het die koor tydens die ATKV Applous kompetisie 10 keer op streeksvlak en 7 keer op nasionale vlak goud verower in die gevorderde gemengde afdeling. Hulle onderneem in hierdie tyd 9 oorsese toere na Europa en die Ooste waar hulle aan verskeie werkswinkels, seminare, feeste en kompetisies deelneem. In 2010 neem die koor in Desember aan die Internasionale Kompetisie vir Kersfees- en Adventsmusiek in Praag deel, waar hulle uit 23 kore aangewys word as die Algehele Wenners met ‘n persentasie van 93.3.

Hulle onderneem ook gereeld binnelandse toere en neem plaaslik met groot welslae deel aan verskeie kompetisies waar hulle gereeld met goud en dubbelgoud toekennings wegstap. Wonderboom word die enigste skool wat die Direkteurstrofeë 8 keer kon verower, en boonop die eerste wat dit in al drie afdelings, gemengde- (5 keer); seuns- (2 keer) en dogterskore (1 keer) kon regkry. Verder is daar deelname aan koorfeeste, seminare, kerkoptredes en “Soiréés” asook 11 CD-en verskeie kassetopnames. Die koor smee ook internasionale bande deur by verskeie geleenthede op te tree as gasheer vir oorsese- en plaaslike kore.

Die koor vier sy 20ste, 25ste 30ste bestaansjare met reunies en feeskonserte waar ±170 huidige en oudlede in ‘n massakoor sing. Uit hierdie reunies spruit die herstigting van die Conwonnité Volwasse koor, wat aanvanklik uit ± 30 oudlede bestaan, maar sedertdien uitgebrei het na vriende, familie en enige iemand wat ‘n passie vir koorsang deel.

Saam met die Conwonnité koor tree die skoolkoor tussen 2011 en 2013 in 3 produksies vir die ATKV op, waarvan twee tydens die Aardklop Kunstefees geskied.

2018 in Oënskou

Waar begin ‘n mens om ‘n koorjaar soos 2018 op te som? Daar was ‘n paar GROOT oomblikke – en ons kyk aan die einde van die jaar met trots terug daarop, maar dit is feitlik onmoontlik om al die klein oomblikke tussenin werklik vas te vang en aan iemand oor te dra wat dit nie ín die oomblik saam gelééf het nie. As u daarom tussendeur al die note en beelde van al die dinge waarmee ons onsself besig gehou het tóg ‘n glimpsie kry van ‘n iets baie, baie groter as ons eie afsonderlike selwe, is dit sprekend van die genade wat ons hierdie jaar ontvang het. Thomas Carlyle het gesê: “Music is well said to be the speech of angels; in fact, nothing among the utterances allowed to man is felt to be so divine. It brings us near to the infinite.”

Die jaar het afgeskop met ‘n dagkamp gevolg deur twee werkswinkels aangebied deur internasionaal gerekende Suid-Afrikaanse dirigent en beoordelaar Christo Burger en kenner op die gebied van Afrika-musiek: Matlakala Bopape. Vroeg in Maart huisves die koor die ‘Stockholms Musikgymnasium Youth Choir’ uit Swede. ‘n Werkswinkel saam met hul dirigent (Bengt Ollén)volg, asook ‘n konsert saam met die Sweedse koor en Conwonnité Volwassekoor.

Tydens die jaarlikse toer na Sabie tree die koor op Goeie Vrydag in die Hervormde Kerk op Hazyview se diens op en ‘flashmob’ die Spar op Sabie. Ons besoek die Lone Creek waterval en hou piekniek by MacMac poele. Daar is vet pret met Boeresports en baie ure se oefening word ingesit sodat ons later die vrugte kan pluk.

Nog voor die skool in April begin oefen die koor saam met die Magaliesberg Kinderkoor (as “WonBerg Jeugkoor” ingeskryf vir die Wêreld Koorspele in die afdeling “Scenic Folklore”) en die choreograaf van die Soweto Gospel Choir aan bewegings vir ‘n deel van hul gesamentlike program. Ons oefen apart en saam, weer, en weer en nog ‘n keer aan ons Wêreld Koorspele programme tot ons tonge op die grond sleep en ons stembande protesteer en die pes-onder-die vee met seisoensverandering uitbreek. Ons oefen selfs reg deur die eksamen.

Die koor het ‘n vol program in die tweede kwartaal en hou op 26 April koorfees saam met die Akustika koor (wat later tydens die Wêreld Koorspele 5 goue medaljes wen asook aangewys word wêreldkampioene in een kategorie) en Conwonnité. Op 1 Mei is dit koorfees by Hoërskool Menlopark. Op 12 Mei het ons ons eie koorfees en op 24 Mei tree ons op uitnodiging by die TUKS Camerata Hoërskole koorfees in die Musaion op. Daarna volg Magaliesberg Kinderkoor se Herfskonsert op dieselfde dag as die skool se wildsfees. Ons het nóg twee optredes by die skool, waarvan een ‘n finale “deursingkonsert” voor die Wêreld Koorspele is.

10de Wêreld Koorspele: Tshwane 2018

Van 4 – 14 Julie bring koormusiek nagenoeg 20 000 mense van regoor die wêreld hier in ons eie stad bymekaar in die grootste byeenkoms vir kore ter wêreld. Dit is ook die hoogste vlak van kompiterende deelname vir enige amateur-koor en die bestes ter wêreld ding mee om die kampioen-kroon in 28 verskillende kategorieë.

Die skoolkoor is deel van die openingseremonie waar hulle tydens een van die grootste oomblikke, die sing van die Suid-Afrikaanse volkslied, vir ‘n oomblik op TV verskyn. Hulle ontmoet ook die burgemeester van Pretoria. Gedurende die eerste week neem hulle saam met die Magaliesberg Kinderkoor as “WonBerg Jeugkoor” in die “Scenic Folklore” afdeling (kategorie 27) deel. Omdat hierdie kombinasie-koor nuut gestig is vir die doel van die spele en nog nooit vantevore as ‘n groep aan ‘n kompetisie deelgeneem het nie moet hulle eers in ‘n kwalifiserende rondte sing waarna hulle in die Ope afdeling (waar enige koor, ongeag hul vorige ervaring, mag deelneem) geplaas word. Die WonBerg Jeugkoor behaal ‘n 2de plek in hierdie kategorie met ‘n vlak 3 Goue diploma.

Gedurende die tweede week neem die skoolkoor in eie reg deel aan die Kampioen-afdeling vir gemengde jeugkore (waar dié kore deelneem wat reeds nasionaal -en internasionaal kompiterend deelgeneem en hul standaard bewys het). Hier kompiteer hul nie bloot teen ander skoolkore nie, maar teen die beste jeug- en streekskore in die wêreld. Hulle behaal met 79.5% ‘n Silwer medalje en ‘n 9de plek uit 18 kore in die kategorie.

Afsluitingskonsert en CD

Op 24 Augustus hou die koor ‘n baie geslaagde afsluitingskonsert, waartydens die koorkomitee vir 2019 aangekondig word en op 1 September neem die koor ‘n CD op. Die CD is by die skool beskikbaar teen R100 per CD en bevat snitte van die WonBerg Jeugkoor, die Hoërskool Wonderboom Skoolkoor asook die Conwonnité Volwasse koor (wat uit 57% oud lede van die skoolkoor bestaan en as afsonderlike koor tydens die Wêreld Koorspele met 79.5% ‘n Silwer medaje in die Kampioen afdeling vir gemengde volwasse kore verwerf het).

In die koor werk ons hard en is ons dankbaar vir elke geleentheid om ons talent met ander te deel. Ons geniet elke oomblik, goed, of minder goed met hart en siel en lewe