HISTORIESE AGTERGROND

ONTSTAAN

In 1925 het die komissie onder leiding van mnr. JA Friis begin met oprigting van die eerste Hoërskool in die Moot. Die Departement van Onderwys was nie te vinde om ‘n Afrikaanse hoërskool te bou nie.

In 1928 het die LUK van Onderwys, mnr. Michael Brink, die belofte gemaak dat ‘n nuwe Afrikaanse hoërskool gebou gaan word. Ongelukkig is die oorgaan tot aksie met die bouprojek op ys gesit tot 1943. Op 13 Februarie 1946 word die terrein aanbeveling goedgekeur.

Die eerste sooi op die gronde van Die Hoërskool Wonderboom (soos ons dit vandag ken) word gedurende November 1946 deur mnr. Michael Brink gespit.

Op 18 Januarie 1949 open mnr. SN van Vuuren (tydelike hoof) saam met 13 onderwysers en 259 leerders Michael Brinkhoërskool.

Op 2 Augustus 1949 begin dr. JC Otto as die eerste permanente hoof van die skool. Die skool se ‘nuwe’ naam “Die Hoërskool Wonderboom” word op 10 Junie 1950 aangekondig en staan steeds tot vandag so bekend. Die skool is vernoem na die Wonderboom (Ficus salicifolia) aan die ander kant van die berg in die Wonderboom Natuurreservaat. Die boom is na oorlewering onsterflik. Hierdie boom is op die skoolwapen verewig en die leuse “Groei en dien” word steeds met mag en mening uitgeleef.

Die skool se getal leerders het vinnig gestyg en so word die eerste aanbouings beplan en ook ‘n werklikheid. Die eerste aanbouings het reeds in 1955 gebeur en van die laaste “bou-en-breekwerk” is aan die begin van Februarie 2022 voltooi.

WONNIES WORD 75 JAAR OUD IN 2024!