
In 2008 het die skool se eertydse sielkundige, Dr Heleen Roets, met die unieke idee gekom om ʼn Tienersteungroep (TSG) te stig. Dit is geskoei op die idee dat tieners makliker met iemand van hulle eie portuurgroep sal praat oor probleme.
Voornemende TSG-lede doen einde Gr. 10 aansoek vir die posisie, gaan deur ʼn streng keuringsproses en word dan verkies op ʼn puntestelsel. Die TSG-groep bestaan dus uit Gr. 11- en 12-leerders en het ʼn ledetal van ongeveer 50. Hulle word opgelei om ʼn ondersteuningsnetwerk te vorm en lewensvaardighede te leer wat hulle die res van hulle lewe kan gebruik. Hierdie konsep bied leerders die geleentheid om in totaliteit te ontwikkel.
Aan elke voogklas, Gr. 8 tot 10, word een of twee TSG-lede toegewys wat die klas op ʼn gereelde basis, tydens voogperiode, besoek. So word ʼn vertrouensverhouding geskep en kommunikasie vergemaklik. Op diè manier is die TSG-lede dan ook ʼn skakel tussen die leerders, personeel en berader.
In 2019 het die TSG ʼn unieke embleem en slagspreuk ontwerp o.l.v. die eertydse voorsitter, Wiltho Kotze. Sedertdien dra hulle op sekere dae hulle TSG-drag wat bestaan uit die TSG-hemp met ʼn denimn en wit tekkies.
Die Tienersteungroep poog ook om elke jaar op ʼn uitreik te gaan. Hulle reik nie net uit na leerders in die skool nie, maar ook na die gemeenskap. Hulle het onder andere al uitgereik na die vrouegevangenis toe, waar hulle gaan sing het en die vrouens bederf het met eetgoedjies. In 2021 het hulle uitgereik na Gracia Kinderhuis toe en met `n looitjieverkope R28 000-00 ingesamel, wat oorbetaal is aan hulle.