Deur die jare is daar met doelgerigtheid gewerk om Die Hoërskool Wonderboom te vorm in ‘n skool waar sy kinders dit kan geniet om jonk te wees. Dit is die kombinasie van lekkerkry en harde werk wat maak dat die Wonnies oral waar hulle gaan, groot sukses behaal. Dit maak ook nie saak wat jou vermoëns is nie, by Die Hoërskool Wonderboom sal jy die baie geleenthede wat die skool bied, kan gebruik om jou uniekheid te ontdek. Kom beleef die vriendelikheid van Wonnieland en verloor jou hart in die mooiste skool in Pretoria.
In 1925 het die komissie onder leiding van mnr. JA Friis begin met oprigting van die eerste hoërskool in die Moot. Die Departement van Onderwys was nie te vinde om ‘n Afrikaanse hoërskool te bou nie.
In 1928 het die LUR van Onderwys, mnr. Michael Brink, die belofte gemaak dat ‘n nuwe Afrikaanse hoërskool gebou gaan word. Ongelukkig is die oorgaan tot aksie met die bouprojek op ys gesit tot 1943. Op 13 Februarie 1946 word die terreinaanbeveling goedgekeur.
Die eerste sooi op die gronde van Die Hoërskool Wonderboom (soos ons dit vandag ken) word gedurende November 1946 deur mnr. Michael Brink gespit.
Op 18 Januarie 1949 open mnr. SN van Vuuren (tydelike hoof) saam met 13 onderwysers en 259 leerders Michael Brink Hoërskool.
Op 2 Augustus 1949 begin dr. JC Otto as die eerste permanente hoof van die skool. Die skool se ‘nuwe’ naam “Die Hoërskool Wonderboom” word op 10 Junie 1950 aangekondig en staan steeds tot vandag so bekend. Die skool is vernoem na die Wonderboom (Ficus salicifolia) aan die ander kant van die berg in die Wonderboom Natuurreservaat. Die boom is na oorlewering onsterflik. Hierdie boom is op die skoolwapen verewig en die leuse “Groei en dien” word steeds met mag en mening uitgeleef.
Die skool se getal leerders het vinnig gestyg en so word die eerste aanbouings beplan en ook ‘n werklikheid. Die eerste aanbouings het reeds in 1955 gebeur en van die laaste “bou-en-breekwerk” is aan die begin van Februarie 2022 voltooi.
‘n Omgeeskool met omgeemense.
Hoog teen Magaliesberg se bors –
Ontspruit bo aard se ruwe kors –
Pryk soos ‘n skone rantekroon
Die Hoërskool van Wonderboom
Deur werksaamheid – let op en sien!
Het in die jare hy gedien,
Deur op te bou en vas te boei
Aan God en volk, die jeug wat bloei
En of ons werk en of ons speel –
Gehoorsaam aan ons lewensreël
Staan hoog die leuse voor ons gees:
Te Groei en Dien: Mag dit so wees!
Refrein:
Soos Reuse-Boom uit Wondersaad
Steeds wil dit groei deur dienstig daad;
En bonkig teen die luglyn blou,
Oor Krugerskroos die hoede hou.
J.A. van der Walt
Hoog teen die Magaliesberge
waar ons groei en dien
Pryk hoog ons Alma Mater
Die Hoërskool Wonderboom
Soos reuse boom uit wondersaad
sal ons tot hoogtes groei.
Ons sal voorwaarts gaan in ons strewe
met ons oë gerig na Bo.
In ons handel, in ons wandel
dra ons jou naam met eer.
In ons harte dra, ons jou leuse
“Groei en Dien.”
Albert Morland
Gedurende September 1949 is daar reeds besluit dat die skoolkleure groen, goud en silwer sou wees, met groen as basiskleur. Die keuse van die skoolwapen moes oorstaan totdat die skool sy huidige naam gekry het. Toe sy Edele, die Administrateur van Transvaal, op 10 Junie 1950, ons skool as “Die Hoërskool Wonderboom” aangekondig het, kon daar eers daadwerklike pogings van stapel gestuur word om ‘n gepaste wapen en leuse vir die skool te vind.
Daar is oproepe gemaak om ontwerpe in te handig en die belangstelling was groot en veral ons leerlinge het groot ywer en kreatiwiteit aan die dag gelê met die opstel van die ontwerpe. Die ontwerp was uiteindelik die skepping van mnr. Combrink.
Die skool word voorgestel deur die wonderboom wat uit ‘n oop boek groei. Die beginsel is dat uit die neerhangende takke weer nuwe bome uitgroei. Hierdie proses verseker die voortbestaan van die boom en in die wapen dui dit op kontinuïteit; daar gaan gereeld leerlinge uit wat hulle mettertyd selfstandig in die samelewing vestig. Die strale wat ook uit die oop boek opstyg, stel die lig voor wat die opkomende son van kennis uitflits. Die deel van die ossewawiel is opsetlik gekies om die afrikaanse karakter van die skool aan te dui en ‘n band met die voortrekkerverlede te vorm, aangesien die ossewawiel die pad van beskawing ook oor die wonderboomnek oopgetrap het. Verder het die ossewawiel ook ‘n simboliese betekenis: die waband of velling as die bindende faktor, dui op groot getalle leerlinge met hul lojaliteit aan die skool. Die leerkragte word deur die naaf – die draende deel van die wiel voorgestel. Die twee speke wat die noodsaaklike band tussen velling en naaf bewerkstelling, moet op tweeledige wyse geïnterpreteer word: in die eerste plek moet dit dui op twee groot steunpilare van die skool, naamlik die kerk en die ouerhuis. Tweedens stel dit die christelikheid en nasionalisme wat almal tot ‘n hegte eenheid smee, voor.
Om ‘n gepaste leuse te kry – ‘n oorspronklike kort en kernagtige, maar tog ‘n inspirerende leuse, was die volgende taak wat aandag verdien het. Weer het die pragtige samewerking – en nou veral aan die kant van die personeel – die resultaat gelewer: Groei en Dien! Die Wonderboom is volgens ons kennis van die planteryk die enigste plant wat ‘n amper onsterflike karakter dra omdat daar reeds nege- of tiental dogters te voorskyn gekom het, voordat die moederboom afgesterf het.
Dit dra die boodskap uit dat elke Wonnie in kennis en karaktervastheid moet groei en gewillig in diens van hul land en medemens moet staan.
Hierdie gedragskode in ooreenstemming met die toepaslike bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 108 van 1996, die Suid-Afrikaanse Skolewet, Wet 84 van 1996 (‘die Skolewet’), die Wet op Nasionale Onderwysbeleid, Wet 27 van 1996, Riglyne vir Gedragskode vir Leerders (Algemene Kennisgewing 776 in Staatskoerant 18900 van 15 Mei 1998) en ander toepaslike regulasies en wetgewing, opgestel.
Aanpassings tot dié gedragskode kan deur die jaar plaasvind, indien dit benodig word, en sal d.m.v. die skool se amptelike nuusbrief aan ouers gekommunikeer word.
Die volledige Gedragskode is in die dagboek beskikbaar.
Kopiereg © 2023 Die Hoërskool Wonderboom