Geagte ouers/voogde
Die Hoërskool Wonderboom Klerewinkel
Teen hierdie tyd glo ons die meeste van ons leerders en ouers het `n voëltjie hoor fluit dat Die Hoërskool Wonderboom in die proses is om sy eie klerewinkel te open. Ons as skool en Beheerliggaam kondig met opgewondenheid aan dat die winkel reeds in Desember van hierdie jaar operasioneel sal wees. Ons wil graag aan die ouers teen bekostigbare pryse kwaliteit skool- en sportklere verskaf en so, deur eenvormigheid en netheid van ons leerders, ons skool se beeld bevorder.
Daar is ook besluit om vanaf Januarie 2024 nuwe ontwerpe vir alle sportklere in te faseer. Die begeerte bestaan om `n meer korporatiewe beeld van die skool te vestig deur die kleure en ontwerpe van die skool te standaardiseer. Daar is `n 2-jaar uitfaserings-tydperk in plek geplaas om ouers tegemoet te kom en ekstra uitgawes te beperk. Skoolklere, wat daagliks gedra word, bly egter dieselfde. Ouers van bestaande leerders hoef dus nie bekommerd te wees dat hierdie nuwe ontwerpe verpligtend sal wees nie.
Bestaande ontwerpe sal steeds by huidige verskaffers aangekoop kan word en leerders kan dit dus steeds met `n geruste hart dra. Ouers wie se kinders eerder die nuwe ontwerpe sal wil dra, kan liefs wag vir die opening van die Wonnies-klerewinkel en sal dan die nuwe klere hier op ons eie terrein kan kom aankoop.Tye waarin die winkel oop sal wees, sal nog gekommunikeer word.
Nuwe Ontwerpe
Nuwe ontwerpe sal aanvanklik op die volgende items van toepassing wees:
1. Wonnie-Gholfhemp en Wonnie-Broek (Wonniedrag)
2. Wonnies Sweetpak
3. Sportdrag*
*Die sportdrag sal dieselfde ontwerp wees met die snit wat vir die sport van toepassing is. Sportdrag sal aangekoop kan word wanneer spanne aangekondig is.
Vir enige navrae kontak wonderuitrusters@wonnies.co.za