Die Hoërskool Wonderboom bied vir Wonnie-leerders die geleentheid om betrokke te raak by ʼn verskeidenheid dienste. Dit kweek selfstandigheid en ʼn omgee-kultuur by ons leerders. Dit bou ook die Wonnie-leerders se selfvertroue en ontwikkel verskeie vaardighede.
Handboeke word vanuit die boekstoor aan al die personeel en leerders van die skool voorsien.
Die boekstoor word deur die volgende personeel bestuur:
Me T Stolz (Boekstoorbestuurder)
Daar is ook ‘n span boekstoorhelpers wat opgelei is om te help met die uitreik van handboeke, asook om nuwe handboeke uit te pak, te stempel, lyntjieskodes op te plak en die boeke op die rakke te pak. Verder moet hulle ook die boekrakke en boekstoor netjies hou en aan die einde van die jaar help met die inname van handboeke. Handboekpakkies vir die leerders van die volgende jaar moet ook gemaak en ingelees word aan die einde van die jaar. Boekstoorhelpers asook ‘n paar personeel is behulpsaam hiermee.
PROSEDURE AAN DIE BEGIN VAN ‘N JAAR
Die leerders ontvang hul handboekpakkies in die Olienkroonsaal gedurende die eerste week van die nuwe jaar. Indien ‘n leerder nog handboeke van die vorige jaar skuld, sal daar nie ‘n handboekpakkie vir daardie leerder wees nie. So ‘n leerder sal dan eers in die tweede week vanuit die boekstoor gehelp word indien die verlore handboek/e vervang of betaal is.
Leerders moet asseblief by ontvangs van hul handboeke, dadelik hul naam, voogklas en die jaartal inskryf op die stempel, aangebring voor in elke handboek. Dit vergemaklik die opspoor van verlore handboeke deur die jaar. Ons vra ouers dringend om toe te sien dat leerders hul handboeke sal oppas en met plastiek sal oortrek (asseblief nie met papier nie en moenie die strepieskode wat geskandeer moet word, toeplak nie). Ons handboeke moet minstens vir vyf jaar gebruik kan word.
HANDBOEKKONTROLE DEUR DIE JAAR
Die Departement van Onderwys vereis dat daar elke kwartaal handboekkontrole gedoen moet word. Dit word in die voogklasse gedoen en die doel daarvan is om te kontroleer dat leerders nog al hul handboeke het en dat die boeke oorgetrek en opgepas word.
Wanneer leerders se handboekpakkies ingelees word, word daar ‘n uitdruk gemaak van al die handboeke en die lyntjieskodes van die boeke op ‘n leerder se naam. Indien ‘n boek se lyntjieskode verskil van die handboek se kode op die uitdruk, beteken dit dat die betrokke leerder dalk iemand anders se boek het. Dit gebeur baie dat leerders saamwerk of sluitkaste deel, waar die handboeke dan per ongeluk omgeruil word. Leerders bly die hele jaar verantwoordelik vir hul handboeke en moet dan self hul handboeke opspoor by hul maats. Indien nie, gaan sulke leerders aan die einde van die jaar vir ‘n verlore boek moet betaal, want slegs dieselfde boeke wat aan die begin van die jaar uitgereik is, sal deur die rekenaar aanvaar word.
Indien leerders deur die jaar handboeke verloor, moet hulle die personeel by die boekstoor in kennis stel. Verlore handboeke kan self vervang of betaal word teen R250 per boek. Sodra ‘n verlore boek betaal is, sal ‘n ander boek aan ‘n leerder uitgereik word. Erg beskadigde handboeke sal ook vervang of betaal moet word aangesien dit dan nie meer gebruik kan word nie. Hierdie beskadigde boek word dan die leerder se eiendom nadat dit betaal is.
Indien ‘n leerder van vakke wil verander in die betrokke jaar, moet hy/sy eers die vorige vak se handboeke ingee by die boekstoor voordat die nuwe vak se handboeke aan hom/haar gegee sal word.
INNEEM VAN HANDBOEKE AAN DIE EINDE VAN DIE JAAR
Graad 8 – 12 leerders bring elke dag hul handboeke van die vak wat hulle daardie dag skryf, na hul eksamenlokaal, waar die boeke opgeneem en boekstoor toe gestuur word.
Leerders mag nie eers aan die einde van die eksamen handboeke ingee nie, want aanvullings vir die nuwe jaar moet gedoen word en handboekpakkies vir die nuwe jaar moet ingelees word.
In die boekstoor word die handboeke dan een vir een geskandeer op die rekenaar en van die leerders se name afgehaal.
Indien daar leerders is wat nog handboeke skuld, word hul ouers in kennis gestel per sms. Sulke leerders moet die verlore handboek/e so gou moontlik vervang of betaal, aangesien hulle nie in die nuwe jaar handboeke gaan kry indien hulle nog boeke verskuldig is nie.
Betalings word slegs by die Finansiële kantoor gedoen. Ouers wat ‘n aanlynbetaling wil doen, moet asseblief spesifiseer dat dit vir HANDBOEKE is en die leerder se NAAM en VAN moet ook aangedui word.
Ons doen ‘n ernstige beroep op ouers om toe te sien dat leerders aan die einde van ‘n jaar betyds al hul handboeke inhandig. Indien al die handboeke nie ingehandig word nie, kan tekorte nie bepaal word nie, wat tot gevolg het dat daar handboektekorte in die nuwe jaar is.
Leerlinge wat deel is van die fotografiespan, help om byeenkomste en aktiwiteite deur die jaar af te neem. Foto’s word ondermeer gebruik vir die jaarblad, webblad, opedae en in alle aanbiedings van die skool.
Hierdie projek gee leerlinge die geleentheid om hulle stokperdjie uit te leef en mooi herinneringe vas te lê in Die Hoërskool Wonderboom se argiewe.
Die mediasentrum beskik oor 35 rekenaars en ongeveer 12 500 boeke. Die boeke sluit vakliteratuur sowel as afrikaanse- en engelse fiksie in.
Leerders kan in ‘n stil en rustige omgewing huiswerk doen en leer.
MISSIE:
Dat alle leerders die geleentheid het om bloot gestel te word aan ‘n verskeidenheid van boeke en ander leesstof en op so ‘n manier hul liefde vir kennis en lees kan uitbrei.
WAT KAN LEERDERS ALS IN DIE MEDIASENTRUM DOEN:
Boeke uitneem, afskrifte maak (teen ‘n minimale bedrag), toegang tot die internet om take en navorsing op rekenaars te doen.
TYE: Pouse – Maandag tot Vrydag
Na skool tot 16:00 – Maandag tot Donderdag
Drukwerk & Fotostate:
(stuur drukwerk vooraf na: media2@wonnies.co.za)
Bring asb. die regte bedrag geld saam
– A4 Swart en wit: R1 per bladsy
– A4 Kleur: R5 per bladsy
Die noodhulpspan van Die Hoërskool Wonderboom bestaan uit ʼn groep opgeleide leerders wat tydens alle tuisbyeenkomste diens lewer. Die span hanteer beserings en noodgevalle in samewerking met gekwalifiseerde ambulanspersoneel.
Alle lede van die noodhulpspan beskik oor ʼn vlak 2-noodhulpkwalifikasie wat vir twee jaar geldig is. Opleiding van nuwe lede vind jaarliks direk na afloop van die Novembereksamen plaas.
Dit is groot pret om deel te wees van hierdie span en die kwalifikasie en ondervinding kan ook op leerders se CV’s geplaas word.
Hoërboomwonniepunte kan vir hierdie aktiwiteit verwerf word. Halfkleure word na drie jaar diens toegeken en erekleure na vyf jaar.
Die restaurant van Die Hoërskool Wonderboom funksioneer op ‘n hoë vlak en bied gereeld ontbyte, oggend-teë en restaurant-middae aan. Sodoende word leerlinge wat die vak Gasvryheidstudies neem, die geleentheid gebied om hul kulinêre talente uit te leef.
Die restaurant-fasiliteite is op hoë standaard, gelykstaande aan van die beste restaurante in die privaatsektor.
Kwartaal 2:
Graad 12:
Datums word bevestig nader aan die tyd. Leerders word ingedeel soos die eksamenrooster en hulle vakke dit toelaat. Ouers/gaste kan dié bogenoemde funksies bywoon. Pryse en besprekings by die Juffrou beskikbaar.
Kwartaal 3:
Graad 10:
Graad 11:
Graad 12:
Ouers/gaste kan dié bogenoemde funksies bywoon. Pryse en besprekings by die Juffrou beskikbaar.
Kwartaal 4:
Graad 10:
Graad 11:
Graad 12:
Datums word bevestig nader aan die tyd. Leerders word ingedeel soos die eksamenrooster en hulle vakke dit toelaat.
Ouers/gaste kan dié bogenoemde funksies bywoon. Pryse en besprekings by die Juffrou beskikbaar.
Kontak Me R Grobbelaar of Me M Claassen by die skool.
Die program is bedoel vir enige persoon wat innerlik wil groei en wil leer hoe om meer sinvol te lewe en gelukkig te wees. Deelnemers geniet die groepdinamika en deel in die lief en leed van die lewe. Tydens sessies sit almal in `n sirkel en kuier net heerlik saam oor verskillende interessante en lewensverrykende onderwerpe. En ja, daar is altyd koffie, koekies en beskuit.
VISIE VAN DIE PROGRAM
Om emosionele intelligensie onder tieners te verhoog, lewens te verryk en hoop te gee vir die toekoms, ten spyte van ENIGE omstandighede. Dit moet hulle ingesteldheid teenoor die lewe positief beïnvloed, sodat hulle beter keuses kan maak en hulle bemagtig word, vir `n beter en gelukkiger toekoms.
BETEKENIS VAN DIE EMBLEEM
Die skoenlapper is `n simbool van lewe en transformasie. Die oënskynlike nuttelose en kleurlose papie is in `n kokon, totdat hy deur die kokon breek en die lig sien. Dan ontstaan die wonder van die allermooiste vlinder wat vry kan rondvlieg.
TYDSDUUR VAN DIE PROGRAM
Nege weke met net een sessie per week. Leerders kan kies tussen `n oggend- of middagsessie, maar verkieslik net 20 deelnemers per groep.
SESSIES | VERSTERKINGS-AKTIWITEITE |
1. Wonder van menswees: Elke mens is uniek. | Tel jou seëninge |
2. Wonder van liefde: Hoe kyk God na ons. | Brief van waardering |
3. Wonder van die brein en denke: Hoe om meer positief te dink. | Positiewe bevestigings |
4. Wonder van verantwoordelikheid: Nie valse verantwoordelikheid nie | “Mindfulness” |
5. Wonder van geloof en vertroue: Geloof en vertroue in jou Skepper. | Bes moontlike self |
6. Wonder van vergifnis: As alles binne-in jou wil vasklou aan die pyn? | Brief van vergifnis |
7. Wonder van gesindheid: Dit is `n funksie van ons denke. | Vriendelike dade |
8. Wonder van keuses: Een van die menslike vryhede is keuses. | Getuienisbrief |
Wonderlig Feesviering: Deelnemersertifikate en balkies word oorhandig en verversing geniet. |
LEERDERDIENS
Om emosionele intelligensie onder tieners te verhoog, lewens te
verryk en hoop te gee vir die toekoms, ten spyte van ENIGE omstandighede. Dit moet hulle
ingesteldheid teenoor die lewe positief beïnvloed, sodat hulle beter keuses kan maak en hulle bemagtig word, vir `n
beter en gelukkiger toekoms.
Die Hoërskool Wonderboom bied vir Wonnie-leerders die geleentheid om betrokke te raak by ʼn verskeidenheid dienste. Dit kweek selfstandigheid en ʼn omgee-kultuur by ons leerders. Dit bou ook die Wonnie-leerders se selfvertroue en ontwikkel verskeie vaardighede.
Die hulpdienste is tydens skoolure beskikbaar en skakel voorkomend en terapeuties in by die voogprogram.
Ons is betrokke by die skep van ‘n gedissiplineerde skoolomgewing en die spesifieke fokusareas sluit onder meer die volgende in:
Leierskapontwikkeling en spanbou
Beroepstoetsing
Individuele- en groepterapie
Ouerleiding
Opleiding van Tienersteungroepe
Breinprofiele en bepaling van denkvoorkeure
Deurlopende studieleiding
As gevolg van sekere sosio-ekonomiese faktore, het die behoefte al meer begin ontstaan om ekonomiese hulp aan sekere van ons leerders wat aangemeld word, te verskaf: Liefdadigheid begin tuis!
VOORBEELDE VAN HULVERLENING AAN MERIETE GEVALLE:
Kruideniersware (blikkieskosprojek): soos kos beskikbaar is, word ‘n mandjie gepak, op aanvraag.
Broodjies (kleinkas) aan sekere leerders – pouses.
Indien deur die bestuur goedgekeur, word registrasiegeld soms in uiterste gevalle, betaal.
Indien deur die bestuur goedgekeur, word leerders gehelp met skoolklere.
Atletiek- en landloopatlete wat in verafgeleë areas woon en gedurende Desembervakansies moet oefen, se vervoerkostes word gedek.
FONDSE WORD GEGENEREER OP DIE VOLGENDE WYSE:
Valentynsdag
Lentedag
Leerders betaal R10 om gewone drag skool toe aan te trek
Daar is kompetisies tussen huise waartydens ons leerders tot die Liefdadigheidsfonds bydra.
Wanneer daar met kos uitgereik kan word sal ‘n Sms aan die ouers gestuur word waarin die datum en tyd bevestig word.
Tyd waarop kos afgehaal word: 14h00 – 15h00 op bogenoemde dae.
Leerders kan self die kos huis toe neem of indien u ‘n alternatiewe reëling wil tref, kontak asseblief tydens skoolure vir me S. Venter.
Daar is ‘n lys van leerders wat ons van kos voorsien. Indien u nie op die lys is nie en ons nie van u behoefte bewus is nie, kan u me. S Venter tydens skoolure kontak.
LW: Dit is slegs vir diegene waar daar regtig nood is.
Kopiereg © 2023 Die Hoërskool Wonderboom