GEE OM VIR WIE JY WIL WEES

SPORT

‘n Gesonde leefstyl kweek ‘n gesonde gees. Dit is belangrik vir Wonnie-leerders om deel te neem aan sport vir die fisieke voordele asook die spangees en ondersteuning wat spansport bied.

KLIK HIER ONDER VIR MEER INLIGTING.

ATLETIEK

E-SPORT

FIETSRY

GHOLF

HOKKIE

JUKSKEI

KRIEKET

NETBAL

RUGBY

SAGTEBAL

ROBOTIKA

SKAAK

SWEM

TENNIS

TAFELTENNIS

ATLETIEK

Die doelwit van atletiek by die Hoërskool Wonderboom is die strewe na uitnemendheid.

Ons beskik oor passievolle afrigters en spanbestuurders wat een doel voor die oë het: Om elke Wonnie-atleet maksimaal te ontwikkel, sodat hul potensiaal werklik na vore tree (of spring)!

Individuele kondisionering vind ook plaas: Hierdie item-spesifieke kondisionering vind plaas onder die leiding van die gimnasiumpersoneel. 

Oefeninge vind op ‘n daaglikse basis plaas. Daar word spesialis-oefentyd gereël gedurende skooltyd om leerders die kans te gee om behoorlik te kan fokus.  Geen atleet wat dus vervoeruitdagings of enige ander derglike probleme het, word uitgesluit tydens die atletiekseisoen nie.

Jaarliks word deelgeneem aan ses volledige byeenkomste, ‘n aflosbyeenkoms en ‘n Top 10 byeenkoms om te verseker elke atleet kry die optimale geleentheid vir deelname.

Verskeie van ons atlete word ook jaarlikse gekies vir die kluster- en distrik-atletiekspanspan.

Ten slotte spog ons met ons prag atletiekfasiliteite: Die skool se atletiekbaan beskik 9 lane asook 2 sektore vir elke veld-item: Elke atleet se droom…

E-SPORT

“E-sport leer ons dat oorwinning nie net afhanklik is van talent nie, maar van samewerking en strategie.” 

E-sport nie net ‘n speletjie nie – dit is ‘n vaardigheid! Ons leerders neem deel aan vooraanstaande speletjies soos Counter-Strike, Rocket League, League of Legends, en Valorant, waar hulle kritiese denke, probleemoplossing en spanwerk ontwikkel.

E-sport bou leierskap, verbeter konsentrasie, en bevorder tegnologiese vaardighede – alles noodsaaklik vir sukses in die digitale wêreld van vandag. Maak nie saak of jy ‘n beginner is en of jy gevorderde vaardighede het nie, Die Hoërskool Wonderboom se e-sportspanne bied die geleentheid om aan kompetisies deel te neem en jou potensiaal te bereik.

FIETSRY

“Fietsry is nie net ‘n sport nie, dit is ‘n manier om die wêreld te verken en jou grense te verskuif.” 

Fietsry is ‘n leefstyl. Ons fietsryprogram bied leerders die geleentheid om fisiese fiksheid, uithouvermoë en selfdissipline te ontwikkel terwyl hulle die buitelug geniet en aan uitdagende roetes deelneem.

Fietsry leer jou om doelwitte te stel, deursettingsvermoë te hê, en verbeter jou kardiovaskulêre gesondheid. Met ons ervare afrigters en ‘n ondersteunende span, kan elke leerder hul volle potensiaal op die pad en op die bergfiets bereik.

GHOLF

Gholf is ‘n baie populêre sport by die Hoërskool Wonderboom.  Die Wonnies speel reg deur die derde kwartaal gholf. Spanne word in die skole liga ingeskryf en ons neem deel teen verskeie skole in Pretoria. Ons gaan ook op ‘n gholftoer elke jaar.  Gholf is ‘n sport wat ons kinders dissipline leer en help om onder druk te funksioneer. ‘n Deel van die ontwikkeling van ons gholfleerders word deur bekwame en professionele afrigting bepaal op ‘n weeklikse basis.

HOKKIE

Die Hoërskool Wonderboom se hokkie gaan van krag-tot-krag.

Ons nuwe multi-funksionele astro oppervlak word ten volle benut deur ons hokkie meisies. Dit gee ons die geleentheid om te werk aan ons vaardighede op astro-oppervlak.  Ons oefen ook op ons skoolveld waar ons aan wedstryd uitleg kan aandag gee.

Ons seisoen begin reeds elke vierde kwartaal waar meisies geleentheid het om by voorseisoen oefening aan te sluit asook gebruik te maak van ons skool gimnasium. In die vierde kwartaal hou ons ook gereeld hokkie klinieke vir ons voormalige Gr8 leerders van die omliggende laerskole.

Verder word jaarlikse toernooie of oefenkampe aangepak, waar nie net tegnieke verbeter word nie, maar spangees asook positiewe verhoudings gebou word.

Die Wonnie-hokkie groei elke dag en tesame met die positiewe, toegewyde groep afrigters en spanbestuurders sien ons jaarliks uit na nuwe uitdagings. Dit is vir ons ‘n visie en misie om elke Wonnie-hokkiespeelster tot haar volle potensiaal te ontwikkel.

JUKSKEI

Jukskei is ‘n sport wat enige Wonnie die geleentheid bied om by ‘n aktiwiteit van die
skool betrokke te raak, die skool te verteenwoordig en so ‘n positiewe bydrae
tot Wonnie-land  te  lewer. Jukskei is ‘n klein sport en dit bied die ideale geleentheid om hegte vriendskapsbande met mede Wonnie-jukskeispelers te smee en op ‘n baie ontspanne manier teen jou opponente mee te ding.

Die sport het sedert 2018 van drie spanne na agt spanne in 2019 gegroei. Ongelukkig was daar geen jukskei gedurende die COVID- tydperk (2020-2021) gespeel nie. In 2022 is alle sport weer hervat en het daar weer vier jukskei spanne vir die liga ingeskryf.

Die Jukskei-interhuis vind in die weede kwartaal plaas en die Jukskei–liga vind gedurende Augustus – September plaas.

Die oefeninge vind Ma-Do na skool by die skool se jukskeibane (agter die Olienkroongebou teen die berg) plaas van 14:00 – 16:00. Die liga-wedstryde is op Saterdae van 7:00 – 14:00 by die jukskei-bane op die hoek van 18de Laan en Swemmerstraat in Rietfontein plaas. Leerders moet met eie vervoer by die bane in 18de Laan afgelaai en weer na die tyd opgelaai word. Vir navrae kontak me. R Steyn by steyn.r@wonnies.co.za

KRIEKET

Die doelwit by die Hoërskool Wonderboom is dat Wonnie-krieket elke speler en speelster se nommer een keuse in die gemeenskap sal wees.

Tein einde dié doelwit te bereik, bertrek ons passievolle afrigters by elke span. Ons afrigters beskik oor ‘n wye basis van kennis, wat gedurende die seisoen gedeel word met ons krieketspelers.

Ons krieketspelers maak ook tydens die seisoen gebruik van die skool se gimnasium vir optimale kondisionering. Hier word ‘n streng program rakende krag, spoed, soepelheid ens. gevolg.

Gedurende die winstersport-seisoen begin ons die voorseisoen-akademie, wat fokus op kriekspelers wat nie wintersport doen nie. Die spelers kry die geleentheid om gim-, klas- en netsessies by te woon ter voorbereiding vir die seisoen.

Oefeninge vind op ‘n daaglikse basis plaas. Wedstryde word oor die hele week, van Maandae tot Saterdae, gespeel.

Jaarliks neem ons aan 3 liga kompetisies deel. Daar vind ook ‘n jaarlikse kriekettoet plaas, waar ons teen skole van regoor Pretoria en selfs ander provinsies speel. Verskeie spelers word ook gekies tot die distrikspan.

Krieket is ook nie net vir die here nie.  Ons skryf jaarliks twee dames krieketspanne in die liga in. Hierdie entoesiasme word ondersteun deur die fasiliteite: Nege krieketnette, een krieketveld asook twee boulmasjien vir oefeninge.

NETBAL

Trotse Wonnie-Netbalspeelsters onthou altyd dat hul Die Hoërskool Wonderboom verteenwoordig, op die baan en van die baan af. Juis daarom onderhou ons die Wonnie-Netbalwaardes en hou ons altyd ons skool se naam hoog met ons houding en optrede.

INTEGRITEIT: Wonnie-netbalspeelsters is betroubaar.

RESPEK: Wonnie-netbalspeelsters respekteer hul skool, medespeelsters, skeidsregters en afrigters.

VERANTWOORDELIKHEID: Wonnie-speelsters tree verantwoordelik op, daarom werk hul hard, woon elke oefening by en wys selfdissipline.

DIENSBAARHEID: Wonnie-speelsters besef netbal is ‘n spansport – hul is dus in diens van die span, nie hulself nie.

ERKENNING: Wonnie-speelsters gee erkenning vir harde werk, selfs al is dit vir hul teenstanders.

Die Wonnies Netbal bestaan uit 4 X O/14 spanne, 4 X O/15 spanne, 3 X O/16 spanne, ‘n O/17 A-span en 2 X O/19 spanne. Elke ouderdom het hul eie identiteit (naam en “logo”), wat almal uniek maak. By die netbal gaan dit vir die afrigters daaroor om die speelster in totaliteit te ontwikkel, sodat hulle as ‘n span sukses kan behaal.

Verder word daar beslis ook gefokus op die unieke en positiewe vaardighede wat elke speelster in haar spesifieke posisie tot die span bydrae. Die afrigters is ervare afrigters, wat self op provinsiale- en nasionale vlak gespeel en afgerig het. Die Hoërskool Wonderboom se fasiliteite word gedurig verbeter en tans is die beplanning om ‘n nuwe netbal-pawiljoen te bou, sowel as die oefenfasiliteite te verbeter en uit te brei.

RUGBY

Rugby het vanaf die bestaan van Die Hoërskool Wonderboom in 1949 ‘n prominente rol daarin gespeel dat die skool deurlopend ‘n toonaangewende rigting – nie net in Pretoria nie – maar ook in groot dele van Suid-Afrika voor bekend is.  Vele Wonnies  se karakter spreek boekdele deur die positiewe prosesse wat deur rugby gevolg is hier by die Hoërskool Wonderboom. Die Wonnies wat harde werk bo alles gestel het, het daartoe gelei dat sommige Wonnies as gevolg van rugby ‘n blink toekoms vir hulle kon bewerkstellig, onder andere; Ruan Nortje die hardwerkende slot, van die Blou Bulle en is hy is tans as ons nuutste Springbok in 2022 aangekondig.  Nog ‘n voorbeeld is Braam van Straaten wat vir die Blou Bulle, Westelike Provinsie en 21 amptelike wedstryde vir die Springbokke uitgedraf het. Die Wonnies spog in totaal met ses Springbokke.

Rugby by die Hoërskool Wonderboom gaan nie oor die konsep van wen nie, maar oor die ontwikkeling van hoe om te wen. Dit beklemtoon die Missie wat ons afrigters het vir die leerders “Om elke leerling die geleentheid te bied om hul volle potensiaal te bereik in die rugbyspan waarin hulle deelneem en dat elke span na die beste van hulle vermoë sal presteer”.

Wonnie rugby is trots op prestasie en erken uitnemendheid.  Wen ten alle koste word egter nie geduld nie.  Die rugbyveld is vir elke onderwyser van ons skool ‘n baie besondere opvoedingsterrein.  Puik sportmangees, netjiese en korrekte kleredrag is deel van die goeie dissipline wat van elke sportman vereis word. Rugby is nie net ‘n sport by die Hoërskool Wonderboom nie, maar ‘n vyf jaar plan van karakterontwikkeling en uitnemendheid.

Wedstryde en Toernooie.

Die Hoërskool Wonderboom se rugbyspanne neem van Februarie – September deel aan Rugby. Die 1e rugbyspan speel 18-22 wedstryde per jaar waar ons ander spanne tussen 16-20 speel. Ons rugbyspanne strek van A tot C spanne by die O/14, O/15 en O/16 spanne. Ons het drie tot vier oopspanne beskikbaar.

  1. Voorseisoen sportreeks
  2. Danie Rossouw rugbyweek
  3. Blou Bulle skole Hoërskole liga
  4. Noordvaal rugbyreeks
  5. Rugby 7’s
  6. Rolyn Engineering rugbyreeks
  7. Vriendskaplike wedstryde
  8. Internasionale toerspanne (Engeland, Skotland of Wallis)

SAGTEBAL

Sagtebal by die Hoërskool Wonderboom is beslis ‘n groeiende sport.  Die doelwit is om jaarliks twee spanne per per ouderdom in die liga in te skryf.  Sodoende word genoegsame diepte ontwikkel ten einde voort te bou op die vorige jare se suksesvolle seisoene.

Personeel betrokke by die Sagtebal is almal passievolle, gekwalifiseerde sagtebal-afrigters. Van dié afrigters neem self nog self op klub- en op provinsiale vlak deel as afrigters en daar is van hulle wat nog self speel en die kolf fluks kan swaai.

‘n Vakansiekursus word ook by die skool aangebied, wat deur provinsiale- en internasionale afrigters hanteer word.

Sagtebal is ‘n unieke sport, wat baie geleenthede vir ons speelsters bied om hulle talent uit te leef. Die Eerste Sagtebalspan staan nie verniet bekend as die Jaguars nie!  Ten slotte is die doelwit ook om aan elke span ‘n eie, unieke identiteit te gee ten einde te wys alle spanne en speelsters is belangrik en almal het ‘n plek in die sport. 

ROBOTIKA

Kom ontmoet die kruislyn van ontwerp en kodering.  Robotika is nog baie nuut in Wonnie land maar groei jaar op jaar.  Robotika vind tydens die tweede en derde kwartaal plaas en ons neem jaarliks deel aan die nationale BBC kompetisie deel waar leerders se projek mee deel teen skole reg oor Suid Afrika.

SKAAK

Skaak ontwikkel intelligensie, analitiese denke en lewensvaardighede soos spanwerk en selfbeheersing. Ons bied skaak aan vanaf die einde van die eerste kwartaal, met kompetisies wat in die tweede kwartaal plaasvind. Die skaakspan oefen Dinsdae en Donderdae van 14:15 tot 16:00, onder leiding van ‘n uitstekende buite-afrigter.

Dit is jou keuse om individueel mee te ding of om deel van ons skoolskaakspan te wees, alle skaakspelers is welkom! Kom toets jou vernuf en sluit aan by die Wonnie-skaakspan.

SWEM

Swem is ‘n individuele- of spansport wat die gebruik van ‘n mens se hele liggaam vereis om deur die water te beweeg. Individuele slae sluit in vlinderslag, rugslag, borsslag, vryslag en die individuele medley. Benewens hierdie individuele geleenthede, kan vier swemmers aan ‘n vryslag of medley-aflos deelneem.

Swem is groot pret, ‘n goeie manier om fiks en gesond te bly, asook vriende te maak.

Swem is ‘n aktiwiteit wat jy vir die res van jou lewe kan voortsit. Dit is ‘n lae-impak aktiwiteit, wat baie fisiese en geestesgesondheidsvoordele inhou.

Om te begin swem, is maklik. Dit is ‘n sport vir alle ouderdomsgroepe, vaardigheids- en fiksheidsvlakke. Wonnie-swemmers benodig slegs ‘n paar swart swemklere, ‘n skoolswemkappie en ‘n swembril. Die swemmers oefen by die Tjaart van Vuuren (50m) swembad. Die Wonnie-swemmers word vervoer na dié swembad – Die skool dra alle vervoer en toegangskostes. Verder word die Wonnie-swemspan afgerig deur ‘n ervare afrigter – Candice Lennox.

Die swemseisoen strek vanaf Januarie tot einde Maart, waar die galas op Donderdae plaasvind. Voorbereidings vir die volgende seisoen geskiet vanaf September tot Desember.

As ‘n ekstra lekkerte neem van die leerders aan die jaarlikse Midmar-Myl te Howick deel. Leerders kry die geleentheid om 1.6 km in die dam te voltooi. Na afloop van die myl, word die leeders getrakteer met ‘n see-uitstappie. Besoek word afgelê aan Umlanga Gateway winkelsentrum, die klein kerkie op die Van Reenen Pas en Thanda Tau leeupark. Kom Wonnie- Swem man swem!

TENNIS

Tennis gaan nie net oor die sport self nie, maar die ontwikkeling van elke individuele speler en die span. Die fokus is uiteindelik op die verhoudings wat daaruit gebou word, vriendskappe wat gevorm word en die sportmangees tussen spelersen opponente. Spanne van vier leerders neem deel tydens die Gauteng-Noord tennisliga, waar hulle teen ander skole kompeteer. Ons Eerste Dogterspan, die Goldcrests, speel hierdie jaar in die B3 liga en het reeds twee keer hul opponente los hande verslaan. Ons skool het pragtige tennisbane, wat onlangs oorgedoen is. Die bane word gebruik vir oefeninge en wedstryde. Die leerders se opgewondenheid om deel te neem, kan soms die bane so bietjie oorneem, veral tydens die inoefening van hul hand-oog-koördinasie met interessante tennisspeletjies soos “tronk”. Geen Wonnie-tennisspeler word egter vir ewig vasgevang in die “tronk” nie, want daar is kishoue wat wag om geslaan te word.

TAFELTENNIS

Tafeltennis is een van Die Hoërskool Wonderboom se mees gevestigde klein sportsoorte.  Tafeltennis vind plaas tydens die eerste en tweede kwartaal.  Dit trek atlete vanaf e-sport regdeur tot rugby- en netbalspelers. Ons neem jaarliks deel in die skole-liga en stamp koppe met skole soos Waterkloof, Boys High en Affies. Tafeltennis is ‘n sport wat baie fokus op selfdissipline, geestelike fiksheid en veral fisiese fiksheid. Die verdere ontwikkeling van ons leerders word weekliks geoefen en behels ook n “boot-camp” tydens die eerste vakansie van elke jaar.  Ons glo dat mens konstant in oefening moet bly en handhaaf dus ‘n effense afgeskaalde oefenprogram tydens die derde en vierde kwartaal.