VERPLIGTE VAKKE
VERPLIGTE VAKKE:
- Afrikaans Huistaal
- Engels Eerste Addisionele Taal
- Wiskunde
- Lewensoriëntering
- Natuurwetenskappe
- Sosiale Wetenskappe
- Tegnologie
- Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe
- Skeppende Kunste
Die vak, Skeppende Kunste, bestaan uit twee komponente. By Die Hoërskool Wonderboom is daar keuse t.o.v. watter twee komponente ‘n leerder wil neem:
- Drama en Kuns,
- Drama en Musiek, of
- Drama en Dans
Die inligting wat hier voorsien word, is volgens die beleid vir Verdere Onderwys en Opleiding (VOO) soos vervat in die Departement van Onderwys se Kurrikulum en Assesseringsverklarings vir Graad 10 tot 12 wat met ingang 2012 vir graad 10 infaseer is. Onthou egter die volgende:
- Die graad 9-leerder se vakkeuse vir graad 10-12 kan nie aan die kind alleen oorgelaat word nie.
- Dit is die verantwoordelikheid van die ouer om leiding en steun aan die kind te gee en saam met die kind ‘n besluit te neem.
- Die skool se verantwoordelikheid is om inligting en advies aan die ouer en kind te gee.
- Die finale keuse bly egter altyd die verantwoordelikheid van die ouers, mits die leerder aan die vereistes vir die vak voldoen.
- Die keuse van elke leerder word deur die skool geverifieer en gekontroleer.
- Die PAM-dokument bepaal die klasgrootte en hoeveelheid leerders wat die vak kan neem in ‘n klas, wat dan die beskikbaarheid van die vak op die skoolrooster bepaal.
Hoe bepaal ek my kind se vakke vir Graad 10?
- Voldoende kennis en begrip van u kind se besondere vermoëns, aanleg, belangstelling en ideale is noodsaaklik.
- Kyk na u kind in sy/haar totaliteit en moenie ‘n bepaalde aspek, byvoorbeeld belangstelling, belangriker as ander talente ag nie.
- Die resultaat van byvoorbeeld aanleg– en/of belangstellingstoetse, moet saam met skolastiese prestasie, gemotiveerdheid, ingesteldheid, persoonlikheid, ensovoorts beoordeel word.
- Die finale keuse moet op basiese opvoedkundige beginsels berus.
Neem die volgende in ag, voordat ‘n finale keuse gemaak word:
A. Individuele verskille
Mense verskil van mekaar. Elke kind is uniek met sy/haar eie besondere vermoë, aanleg, belangstelling, persoonlikheid en toekomsverwagtinge.
B. Skolastiese vermoë
Skolastiese vermoë is die aangebore, potensiële vermoë van die mens om te kan leer en akademies te kan presteer. Omdat die mens so ‘n komplekse wese is en omgewings-faktore ‘n invloed op hom kan hê, is dit nie maklik om te voorspel presies wat hy/sy op akademiese gebied kan vermag nie.
Ouers en leerders moet poog om ‘n realistiese keuse te maak wat op historiese en feitelike inligting gebaseer is. Die skoolrapport is ‘n betroubare maatstaf van ‘n kind se skolastiese prestasie.
Indien ‘n leerder swak presteer in ‘n bepaalde vak/vakke in graad 8 en 9, is dit onwaarskynlik dat hy/sy in die VOO-fase in daardie vak goed sal presteer.
C. Aanleg
Dit is die potensiaal waaroor ‘n persoon beskik wat hom/haar in staat stel om met opleiding en/of oefening ‘n bepaalde vlak te kan bereik.
Aanleg, tesame met belangstelling, houding, motivering en ander persoonlikheidseienskappe, sal in ‘n groot mate die uiteindelike sukses van die leerder bepaal.
D. Belangstelling
Die belangstelling van die leerder is ook belangrik wanneer vakkeuses gedoen word. Dit kan egter nie as enigste maatstaf dien nie. Belangstelling, tesame met skolastiese vermoë, aanleg en inidividualiteit moet die basis vir die vakkeuse vorm.
VAKKE:
Die goedgekeurde vakke vir VOO is in twee groepe verdeel, naamlik Groep A (vier verpligte vakke) en Groep B (keusevakke, waarvan drie gekies moet word).
Algemene opmerkings:
- Die minimum hoeveelheid leerders wat ‘n vak kan kies, word volgens die PAM-dokument (Personnel Administrative Measurement) van die Departement van Onderwys voorgeskryf. Dit bepaal of ‘n vak aangebied kan word of nie.
- Vakke wat in graad 9 gedruip is, moet verkieslik nie as keusevakke in Groep B oorweeg word nie.
- Indien ‘n leerder Wiskunde in graad 9 druip, MOET Wiskundige Geletterdheid in graad 10 geneem word.
- Rekenaarverwante vakke wat gekies kan word, is Inligtingstegnologie (IT) en Rekenaar-toepassingstegnologie (RTT).
Inligtingstegnologie fokus op die oplos van probleme deur middel van programmering (Delphi), die opstel van ‘n databasis en aspekte soos e-kommunikasie, mens-rekenaar-interaksie, sosiale implikasies van die rekenaar, nuwe tegnologie, ensovoorts. Dit word sterk aanbeveel vir leerders wat ingenieurswese wil gaan studeer. Die keuse van IT as vak is onderhewig aan keuring op grond van akademiese prestasie in graad 9, spesifiek in Wiskunde (60%).
Rekenaartoepassingstegnologie fokus op die hantering van inligting en oplos van probleme deur die gebruikmaking van toepassingspakkette (Word, Excel, Access, Frontpage, ensovoorts). Teoreties word hier aandag geskenk aan die volgende onderwerpe: hardeware, sagteware, netwerke, rekenaarsekuriteit en rekenaaretiek.
Inligtingstegnologie sowel as Rekenaartoepassingstegnologie mag gekies word.
Leerders wat Inligtingstegnologie kies, MOET Wiskunde neem en nie Wiskundige Geletterdheid nie.
- Indien ‘n leerder Fisiese Wetenskappe wil kies, MOET Wiskunde geneem word.
‘n Voorvereiste van 60% vir Wiskunde word gestel. - Leerders moet 50% vir Wiskunde in Graad 9 bereik, ten einde Wiskunde as vak in Graad 10 te neem.
PRESTASIE-AANDUIDERS SOOS DIT OP DIE RAPPORT VAN DIE LEERDER SAL VERSKYN:
Prestasiepersentasie | Prestasievlak | Prestasiebeskrywing |
80-100 | 7 | Voldoen uitmuntend |
70-79 | 6 | Voldoen met meriete |
60-69 | 5 | Voldoen volgens standaard |
50-59 | 4 | Voldoen bevredigend |
40-49 | 3 | Voldoen |
30-39 | 2 | Voldoen gedeeltelik |
0-29 | 1 | Nie bereik nie |
MINIMUM SLAAGVEREISTES VIR GRAAD 10:
- 40% vir Afrikaans huistaal,
- 40% in twee ander vakke
- en 30 % vir ‘n verdere 3 vakke.
ALGEMENE OPMERKINGS RAKENDE VAKKEUSES:
- Jy kies nie nou ‘n beroep nie.
- Kies ‘n vakpakket wat geleenthede vir die toekoms kan bied.
- Elke individu se belangstellingsveld moet in ag geneem word.
- Indien jou aanleg nie sterk is nie en spesifieke vakke is nodig vir toekomsstudie, moet die leerder ekstra hard werk.
- As daar reeds ’n belangstelling in ’n beroepsveld is, gaan kyk in tersiêre instansies se jaarboeke wat die studiekursus se vereistes is.
- As daar reeds ’n belangstelling in ’n beroepsveld is, gaan doen vroeg genoeg skaduwerk by ’n firma om seker te maak dit is werklik die loopbaan wat gevolg wil word.
- Gaan lees gerus hierdie nuttige artikel, gedateer, 21 Januarie 2016, op MAROELA MEDIA, waar sake soos die korrekte vakkeuse, belangrikheid van TPT-punt, stappe om regte vakke te kies, Wiskunde of Wiskundige Geletterheid as vak, hanteer word: http://maroelamedia.co.za/goeiegoed/ouerskap/gr-9-vakkeuses-het-verreikende-gevolge/
- Op die volgende skakel het die Universiteit van Pretoria, ‘n baie nuttige brosjure rakende vakkeuses vir graad 10.
http://www.up.ac.za/af/juniortukkie/article/2208963/grade-10-subject-choices
VAKVERANDERINGS:
Leerders word aangemoedig om ‘n ingeligte besluit rondom hul vakkeuses te neem, sodat vakveranderinge tot die minimum beperk word. Dit verg baie inspanning vir ‘n leerder om in te haal wanneer hulle ‘n nuwe vak begin.
Aanpassing van Regulasie 17:
(a) (1) Vakveranderings (twee) mag in Graad 10 gedoen word, indien dit voltooi is teen die einde van die tweede kwartaal, op voorwaarde dat dit deur die Hoof van die skool waar die leerder geregistreer is, goedgekeur word. Sodanige vakveranderinge moet voor of op 30 Junie in die Graad 10-jaar gedoen wees.
(a) (2) ‘n Leerder mag twee vakke in Graad 11 verander, mits dit voor of op 31 Maart gedoen is, op voorwaarde dat dit deur die Hoof van die skool waar die leerder geregistreer is, goedgekeur word.
Vakveranderings soos aangedui in subregulasies (1) en (2) hierbo mag slegs een keer deur ‘n leerder in die VOO-fase gedoen word.
Vakke kan slegs verander word indien daar plek in die nuwe vak beskikbaar is en dit in die rooster kan pas
VERPLIGTE VAKKE
AFRIKAANS HUISTAAL
Afrikaans is verpligtend vir alle leerders en word slegs as Huistaal aangebied. Die slaagvereiste in Graad 10 -12 is 40%.
BENADERINGSWYSE
Afrikaans word aan die hand van die KABV-vereistes onderrig en deurlopend geassesseer. Die fokus val op die vaslegging en uitbreiding van taal en geletterdheid en word deur prestasie-omskrywings gerekordeer.
KURRIKULUM
Drie groot afdelings naamlik lees, praat en skryf word onderskei, maar dit word met mekaar geïntegreer.
VAKAKTIWITEITE
Afrikaans-Olimpiade, Skryfkompetisie, Afrikaans-Ekspo en ander vakverwante aktiwiteite wat redenaars en debat insluit, word hanteer.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Vertaler, tolk, diplomaat, joernalis, radio- en TV-kopieskrywer, onderwyser, reklamewese, kommunikasie, buitelandse inligtingsdiens, skakelbeampte.
ENGLISH FIRST ADDITIONAL LANGUAGE
APPROACH
We teach mainly communicative skills, with the emphasis on speaking, reading, writing and listening in curriculum context and continuous assessment.
SYLLABUS
The main categories are oral [listening, speaking, reading], language structures, visual literacy, comprehension, literature, poetry and creative and functional writing.
SUBJECT ACTIVITIES
Public speaking- and creative writing competitions.
CAREER POSSIBILITIES
Translator, interpreter, editor, copywriter, proof-reader, journalist, advertising, radio or TV-presenter, writer, communications, teacher, tourist guide, playwright.
WISKUNDE OF WISKUNDIGE GELETTERDHEID
Een van bogenoemde moet geneem word. As ‘n leerder minder as 50% vir Wiskunde na afloop van ‘n eksamen in graad 9 kry, sal die leerder aanbeveel word om Wiskundige Geletterdheid in graad 10 te neem.
As ‘n leerder Wiskunde aan die einde van graad 9 druip (slaagvereiste 40%), sal Wiskunde nie in graad 10 geneem kan word nie.
‘n Leerder sal in graad 10 toegelaat word om na afloop van ‘n eksamen vanaf Wiskunde na Wiskundige Geletterdheid te vervlak, maar ‘n skuif van Wiskundige Geletterdheid na Wiskunde sal onmoontlik wees.
- WISKUNDE
Probleemoplossing is die sentrale fokus in die onderrig en leer van Wiskunde met die spesifieke doelstellings: die ontwikkeling van die vermoë om logies te redeneer, te veralgemeen, te verbesonder, te organiseer, analoë te trek en te bewys, asook die ontwikkeling van insig in ruimtelike verwantskappe en meting. Slaagvereiste: 30%.
‘n Liefde en werksetiek word doelbewus vir die vak gekweek.
VAKAKTIWITEITE
Olimpiades en gratis ekstra Wiskunde klasse by die skool.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
‘n Persentasie van ongeveer 70% vir Wiskunde is ‘n voorvereiste vir verdere studie in ingenieurswese, medies, tandheelkunde, veeartseny, natuurwetenskappe, rekenaarstudie, statistiek, sekere landbouwetenskappe, boukunde, tegnika, aptekerswese ens.
- WISKUNDIGE GELETTERDHEID
Die bevoegdhede wat ontwikkel is deur Wiskundige Geletterdheid laat individue toe om sin te maak van, deel te neem aan en by te dra tot die wêreld van die een-en-twintigste eeu – ‘n wêreld wat gekenmerk word deur getalle, argumente gebaseer op getalle en data wat op verskillende maniere voorgestel en verdraai is. Sulke bevoegdhede sluit in die vermoë om te kan redeneer, besluite te kan neem, probleme te kan oplos, hulpbronne te kan bestuur, inligting te kan interpreteer, lyste van gebeurtenisse te kan maak en die gebruik en toepassing van tegnologie. Leerders word blootgestel aan beide wiskundige inhoud en lewensgetroue konteks om hierdie bevoegdhede te ontwikkel.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Regsgeleerde, maatskaplike werk, Beeldende- en Visuele kunste, musiek, bedryfsosiologie, arbeidstudies, toerisme, teologie, verpleegkunde, onderwys, inligtingstegnologie.
LEWENSORIËNTERING
Dit is ‘n vak wat nie vir die toelatingpuntetelling (TPT-telling) tel nie.
BENADERINGSWYSE
Lewensoriëntering is die studie van die self in verhouding tot andere en tot die samelewing. Hierdie vak behandel die vaardighede, kennis en waardes oor die self, die omgewing, verantwoordelike burgerskap, ‘n gesonde en produktiewe lewe, sosiale betrokkenheid, ontspannings- en fisiese aktiwiteite, loopbane en loopbaankeuses. Dit sluit geleenthede in om betrokke te raak by die ontwikkeling en praktyke van ‘n verskeidenheid lewensvaarighede om probleme op te los, om ingeligte besluite en keuses te maak en om gepaste aksies te neem om betekenisvol en suksesvol in ‘n snelveranderende samelewing te leef. Dit fokus nie net op kennis nie, maar dit beklemtoon ook die belangrikheid van die toepassing van vaardighede en waardes in werklike lewensituasies, deelname aan ‘n fisiese aktiwiteit en inisiatiewe.
KURRIKULUM
Lewensoriëntering is een van die vier fundamentele vakke wat vir die Nasionale Senior Sertifikaat, vereis word. Dit is ‘n unieke vak wat ‘n holistiese benadering toepas ten opsigte van die persoonlike, maatskaplike, intellektuele, emosionele, geestelike, motoriese en fisiese groei en ontwikkeling van die leerders. Dit moedig die ontwikkeling van ‘n gebalanseerde en selfversekerde leer aan wat ‘n bydrae kan maak tot ‘n regverdige en demokratiese samelewing, ‘n produktiewe ekonomie en verbeterde lewensgehalte vir almal.
Die noodsaaklikheid van Lewensoriëntering.
Dié leerarea rus leerders toe om hulle talente te gebruik sodat hulle, hul volle potensiaal op verskillende terreine kan ontwikkel. Dit help hulle om vaardighede te ontwikkel om gesonde verhoudings te sluit, om ‘n positiewe bydrae tot hulle gesin, gemeenskap en die samelewing te lewer en om die kernwaardes van die Grondwet van Suid-Afrika te verstaan en uit te leef.
Dit help hulle ook om hulle eie waardestelsel te ontwikkel en groter begrip te kry vir die belangrikheid van die waardes wat hulle eie en ook ander kultuurgroepe in Suid-Afrika koester. Lewensoriëntering rus leerders toe om hulle grondwetlike regte en verantwoordelikhede uit te oefen, om die regte van ander te respekteer en om verdraagsaam te wees teenoor ander in ‘n land van groot kulturele en godsdienstige diversiteit.
KEUSEVAKKE
FISIESE WETENSKAPPE
TOELATINGSVEREISTES
Fisiese Wetenskappe in graad 10 word aanbeveel vir leerders wat in graad 9 die fisika- en chemie-afdeling van Natuurwetenskappe op minstens vlak 4 (50%) geslaag het. Wiskunde is verpligtend met 60%.
BENADERINGSWYSE
Praktiese werk geniet ‘n hoë prioriteit. Leer deur self te doen en te ontdek. Leerders se vermoë om logies te redeneer, verbande in te sien en gevolgtrekkings te maak, word ontwikkel.
Die rol van hierdie vak in die lewe van elke Suid-Afrikaner:
Die Fisiese Wetenskappe beïnvloed wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling wat die basis is vir ‘n land se ekonomiese groei en sosiale welvaart is. Hierdie vakgebied stel die leerder in staat om basiese kennis te verwerf wat betref tegnologiese ontwikkeling op die terreine van behuising, die kos wat ons eet, die klere wat ons dra, materiale wat ons gebruik, mediese diagnoses en behandelings, rekenaars en ander inligtingstegnologie. Die nuwe kurrikulum van die Fisiese Wetenskappe stel hom ten doel om die verwerwing van wetenskaplike kennis en wetenskaplike geletterdheid meer toeganklik vir alle Suid-Afrikaners te maak.
VAKAKTIWITEITE
Opvoedkundige uitstappies, Wetenskap Olimpiade, Expo vir Jong Wetenskaplikes.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Ingenieurswese, natuurwetenskappe, geneeskunde, tandheelkunde, veeartsenykunde, landbouwetenskappe, arbeids- en fisioterapie, optometrie, lugvaart en nog vele meer.
LEWENSWETENSKAPPE
Dit is ‘n biologiese vak en behels die studie van lewe (plant- en dierkunde, insluitend anatomie en fisiologie) in ‘n veranderende natuurlike en mensgemaakte omgewing. Lewenswetenskap is ‘n praktiese vak en gereelde prakties werk (mikroskoopwerk, werkkaarte, disseksies) word gedoen. Uitstappies word onderneem. Leerders sal navrae, probleemoplossing, kritiese denke en ander vaardighede ontwikkel en sal dié vaardighede gebruik om Lewenswetenskappe te interpreteer en te gebruik om verskynsels te verduidelik. Hulle sal die kennis in hulle persoonlike lewens as verantwoordelike burgers toepas, om sodoende
‘n gesonde leefstyl aan te kweek en om bronne effektief te bestuur. Deur Lewenswetenskappe te bestudeer, kan die leerders die onderlinge verwantskappe tussen die mens (diere en plante) en die omgewing en die gemeenskap beter verstaan.
Die doel van die bestudering van Lewenswetenskappe:
- Die ontwikkeling van wetenskaplike kennis en begrip.
- Die ontwikkeling van die wetenskaplike ondersoek.
- Die ontwikkeling van ‘n begrip van die rol van wetenskap in die samelewing.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Enige mediese wetenskappe soos geneeskunde, tandheelkunde, veeartsenykunde, landbouwetenskappe, arbeids- en fisioterapie, optometrie, omgewingsbestuur, natuurbewaring en nog vele meer.
REKENAARTOEPASSINGS-TEGNOLOGIE (RTT)
KURRIKULUM
Die vak handel oor die effektiewe gebruik van inligting- en kommunikasietegnologie vir ‘n eindgebruiker in ‘n rekenaartoepassingsomgewing, in verskillende sektore van die samelewing. Die inhoud dek teoretiese sowel as praktiese aspekte van die rekenaar en sy gebruike asook die invloed van die tegnologie op die mens en sy omgewing. Word, Excell, Access en Powerpoint word gebruik om die leerders te help om in ‘n kantooromgewing werk met ‘n rekenaar te doen.
BENADERINGSWYSE
Dit rus die leerder toe met kennis, vaardighede, waardes en benaderings tot die ontwerp, ontwikkeling en uitstuur van inligting in verskillende formate. RTT maak dit ook vir leerders moontlik om data te versamel, te analiseer en te korrigeer en dit dan weer te manipuleer en te verwerk om dit na verskillende sektore te versprei. Hulle leer dus om die verskillende programme saam te gebruik.
FOKUSAREAS
Die vak bestaan uit ‘n teoretiese en ‘n praktiese component (PAT).
- Basiese kennis van inligting en kommunikasietegnologie
- Geïntegreerde eindgebruiker rekenaartoepassingsvaardighede en kennis van probleemoplossing – die verwerking, aanbieding en uitstuur van inligting
- Inligtingsbestuur – toepas van vaardighede deur die gebruik van eindgebruiker-rekenaartoepassings.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Alle instansies vereis rekenaarvaardighede. RTT gee die agtergrond om ‘n databasis te bou en te onderhou, die kennis om ‘n finansiële oplossing te skep vir ‘n rekenkundige beroep en die agtergrond om in ‘n rigting te gaan waar mens rekenaars regmaak of bou. Met die nuwe kurrikulum kan jy selfs webontwikkeling doen. Dit is dus ‘n vak wat jou reeds toerus om verskillende pakkette geïntegreerd te gebruik en kom handig te pas by die inhandiging van take tot op universiteitsvlak en later in die werksomgewing.
IT – INLIGTINGSTEGNOLOGIE
TOELATINGSVEREISTES
Die leerder wat hierdie vak kies, moet ‘n goeie punt in Wiskunde in graad 9 kry (60%). Dit is ‘n goeie maatstaf om te bepaal of dit binne sy/haar belangstelling val. Inligtingstegnologie word as vak aanbeveel waar die leerder beplan om ‘n rigting te volg wat te doen het met probleemoplossing, ingenieurswese, aktuarieel, informatika en stelselbeheer.
KURRIKULUM
Dit bestaan uit ‘n praktiese- (PAT) en teoretiese komponent.
BENADERINGSWYSE
Die klem is op probleemoplossings deur logiese denke, inligtingsbestuur en kommunikasie. Dit fokus ook op die ontwikkeling van rekenaartoepassings deur gebruik te maak van bestaande programme [soos Delphi vir die skryf van programme]. Die vak ontwikkel ook ‘n bewustheid en verstaan van die sosiale, ekonomiese en ander implikasies van die rekenaar op die leefwêreld van die mens.
BENADERINGSWYSE
Die klem is op probleemoplossings deur logiese denke, inligtingsbestuur en kommunikasie. Dit fokus ook op die ontwikkeling van rekenaartoepassings deur gebruik te maak van bestaande programme [soos Delphi vir die skryf van programme]. Die vak ontwikkel ook ‘n bewustheid en verstaan van die sosiale, ekonomiese en ander implikasies van die rekenaar op die leefwêreld van die mens.
REKENINGKUNDE
BENADERINGSWYSE
Rekeningkunde word praktykgerig aangebied en konsentreer daarop om leerders met praktiese vaardighede toe te rus om hulle beroepsgereed te maak. Leerders ontwikkel karaktereienskappe soos deeglikheid, akkuraatheid, netheid, redenasievermoë en integriteit.
KURRIKULUM
Rekeningkunde bestaan uit die versamel, rekordering en ontleding van finansiële inligting met die oog daarop om finansiële besluite te kan maak. ‘n Balans tussen teorie en die praktyk word gehandhaaf om te verseker dat ‘n leerder tot die arbeidsmark kan toetree of verder kan studeer.
VAKAKTIWITEITE
Deelname aan die Rekeningkunde Olimpiade.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
‘n Noodsaaklikheid vir enige beroep vanaf ‘n tuisteskepper [begroting] tot ‘n ouditeur [geoktrooieerde rekenmeester]. Dit is ‘n verpligte vak vir enige B.Com-rigting. Dit word ook vereis vir verskeie ander studierigtings soos bv. LLB (sien inligting vanaf universiteite), die slaag van ‘n Rekeningkunde-module. Elke landsburger moet sy eie finansies kan bestuur.
EKONOMIE
BENADERINGSWYSE
Ekonomie is ‘n dinamiese, toekomsgerigte vak waar aktuele ekonomiese aangeleenthede soos bv. die invloed van inflasie, rentekoerse, wisselkoerse, die petrolprys, die goudprys, stakings, ensovoorts op ons land se ekonomie en sy mense, krities ondersoek en bespreek word.
KURRIKULUM
Dit bestudeer deelnemers aan die ekonomie wat huishoudings, besighede en die owerheid insluit, produksie van goedere en dienste; huidige ekonomiese struktuur van Suid-Afrika, nasionale inkome, prysvorming, ekonomiese ontwikkeling, internasionale ekonomie en die rol van die regering.
VAKAKTIWITEITE
Sakepublikasies soos Finweek, powerpoint-aanbiedinge, en DVD’s word deurentyd gebruik om op hoogte te bly van verwikkelinge in die wêreldekonomie. Aktiewe deelname van leerders is spontaan omdat hulle geprikkel word deur die impak van ekonomiese gebeure op die alledaagse lewe. Bywoon van seminare aangebied deur bv. die Sakekamer of Solidariteit.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Ekonoom, onderwyser, effektemakelaar, bankier, personeelbestuurder, sakebestuurder, staatsaanklaer, eie besigheid (entrepreneur), toerismebestuur, statistikus, portefeuljebestuurder.
Die sillabus wat op skool in Ekonomie gevolg word, sal ‘n groot aanwins wees wanneer jy Ekonomie op universiteit neem. Jy sal wel ‘n deeglike agtergrond van Ekonomie hê, wat sal help op universiteit. Wanneer jy die volgende kursusse oorweeg, word Ekonomie as vak ingesluit: B.Com, B. Prok., Aktuaris, Ingenieurswese en nog vele meer.
BESIGHEIDSTUDIES
BENADERINGSWYSE
Die leerders word na elke lesaanbieding die geleentheid gegee om praktykgerigte werksopdragte te voltooi. Verskeie assesseringsmetodes word gebruik.
KURRIKULUM
Besigheidstudies behels byvoorbeeld:
- hoe om ‘n sakeplan op te stel
- hoe om jou eie onderneming te begin
- verskillende tipe ondernemingsvorme en hoe dit opgerig word
- watter wette jou as entrepreneur raak
- wat etiese en professionele gedrag is
- wat kreatiewe probleemoplossing is en
- wat menslike hulpbronne is vanaf onderhoudvoering tot die indiensnemings-kontrak.
VAKAKTIWITEITE
Praktiese opdragte sodat die leerders die praktyk kan beleef en sodoende toegerus kan wees vir die toekoms.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Entrepreneur, menslike hulpbronbestuurder, bemarkingsbestuurder, aankoopbestuurder, produksiebestuurder, finansiële bestuurder en vele meer.
GEOGRAFIE
BENADERINGSWYSE
Geografie stel leerders in staat om verskynsels, prosesse en ruimtelike patrone te verklaar. Leerders leer om ingeligte besluite te neem, veral oor die veranderende omgewing. Klem word op volhoubare ontwikkeling en die toepassing van geografiese vaardighede gelê. Geografiese inligtingstelsels is ‘n opwindende nuwe veld wat as onderafdeling van die kaartwerk geïnkorporeer word en word graag aanbeveel vir leerders wat belangstelling en vaardigheid in inligtingstegnologie en rekenaarsvaardighede het.
KURRIKULUM
Die vak bestaan hoofsaaklik uit twee komponente naamlik teorie en kaartwerkvaardighede. Geografie is ‘n mens- en omgewingswetenskap wat baie goed skakel met Lewenswetenskap, Ekonomie, Fisiese Wetenskap, RTT en IT, Omgewingstudies en Toerisme.
Nuusgebeure van geografiese belang word in die klas hanteer.
Leerders moet daarop let dat KAARTWERKVAARDIGHEDE hoofsaaklik in graad 10 afgehandel word en dat slegs toepassing van die teorie in gr 11 en gr 12 behandel word. Leerders moet oor basiese berekeningsvaardighede beskik om kaartwerk te kan doen.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Geografiese inligtingstelsels, omgewingsimpakspesialis, kartograaf, stads- en streeksbeplanner, geomorfoloog, geoloog, marine-bioloog, klimatoloog, (weervoorspelling), toergids/veldgids, toeroperateur/reisagent, joernalis, museumkurator/personeel, onderwys, toerisme, argitektuur, vlieënier, ingenieur.
GESKIEDENIS
BENADERINGSWYSE
Die studie van geskiedenis is relevant vir die moderne wêreld en die wyse waarop ons krities met die wêreld rondom ons omgaan. Dit wil die leerders uitdaag om argumente te struktureer, krities met relevante onderwerpe om te gaan en oor die algemeen, die jong breinkragte leer om te dink. Geskiedenis is ‘n sosiale wetenskap en stel die leerder bekend aan die:
- Sosiologie
- Sielkunde
- Politiek
- Ekonomie, en
- Kultuurverhoudings
KURRIKULUM:
- Navorsingsvaardighede: die vermoë om idees in ‘n leerbare en georganiseerde vorm aan te bied
- Onafhanklike en kritiese denke
- Analitiese vaardighede
- `n Kritiese bewussyn
Eienskappe wat vereis word:
- Sterk taalvaardighede
- Ontwikkelde oordeel
- ‘n Liefde vir lees
- Politiese en sosiale ingeligtheid
- ‘n Verligte gees
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Argeologie, museum-kurator, argivis, geskiedkundige, onderwyser, siviele amptenaar, volkekunde, sielkunde, polkitieke studies en joernalistiek.
MUSIEK
TOELATINGSVEREISTES
Musiek as vak is ʼn sterk aanbeveling vir verskeie studierigtings omdat ʼn voornemende student akademiese veelsydigheid en selfdissipline as gesogte uitkomste vir hierdie vak aanleer.
Dit is ongelukkig nie moontlik vir ʼn leerder om in graad 10 eers met Musiek as vak te begin nie; daarom is alle voornemende kandidate onderworpe aan ʼn keuringsproses. Leerlinge wat alreeds in graad 8 en 9 Musiek as vak geneem het, word op grond van prestasie in die vak gekeur, andersins word aanbeveel dat ʼn leerder op minimum graad 3 praktiese- en teoretiese vlak moet wees om sukses te behaal.
LET WEL: ʼn Addisionele heffing word naas skoolgeld gehef.
BELANGRIK OM TE WEET
Slegs een instrument word saam met die relevante teoretiese komponente aangebied, maar leerlinge wat ʼn tweede instrument buitemuurs neem, kan dit ook as deel van die praktiese komponent van die vak aanbied.
Dink hieroor na – leerlinge wat nie ʼn voltydse loopbaan in musiek wil volg nie, het die geleentheid om, as deel van ʼn algemene skolastiese opleiding, Musiek in al sy fasette as ʼn skoolvak te ervaar. Dit is ʼn gulde geleentheid wat in min skole aangebied word. Leerlinge wat wel musiek as loopbaan oorweeg, word hier deeglik voorberei vir hulle musiekstudies.
Musiek as matriekvak word hoog geag wanneer aansoek gedoen word by tersiêre instellings, selfs al word loopbaanrigtings soos medies of ingenieurswese oorweeg. Dit is wyd bekend onder universiteitsakademici dat musiek as vak selfdissipline en selfmotivering kweek.
VAARDIGHEDE EN KENNIS
Musiek behels die volgende aktiwiteite in ‘n geïntegreerde program:
- Musiekvoordrag: solo- en groepwerk
- Algemene Musiekkennis
- Komposisie, verwerking, improvisasie
- Studie en analise van musiekstyle binne verskillende musiekkulture
- Musiekgeletterdheid
- Musiektegnologie
- Navorsingsprojekte
VAKAKTIWITEITE
- Musiekoueraande vir elke graad word in die vorm van ‘n konsert aangebied.
- Deelname aan Eisteddfods word aangemoedig en ondersteun.
VISUELE KUNSTE
TOELATINGSVEREISTES
Leerders moet besik oor ’n kunsaanleg en kreatiewe vermoëns.
KURRIKULUM
Ons dinamiese departement is betrokke by ‘n uiteenlopende verskeidenheid van kunsteorieë en praktiese komponente wat visuele kunste in ons samelewing vandag bekleë.
Visuele kuns bied opwindende en uitdagende leeruitkomstes aan, wat konseptualisering, kunsgeskiedenis, beeldende kunste, visuele kommunikasie en visuele kultuurstudies insluit.
TEORETIESE EN PARKTIESE AFDELINGS
Kunsgeskiedenis in graad 10 en 11 behels die internasionale kunsbewegings vanaf die ontstaan van kuns tot die 20ste eeu se kuns.
Graad 12 kunsgeskiedenis fokus op die kontemporêre Suid-Afrikaanse kunstenaars, geintegreerd met 20ste eeuse internasionale kunsbewegings.
Praktiese komponente van visuele kuns sluit ’n verskeidenheid mediums en tegnieke in wat die leerder beoefen en in spesialiseer.
BENADERINGSWYSE
Die ontwikkeling van ’n fantastiese kunstalent en kreatiwiteit, genotvolle kunsbeoefening, praktiese lesse en teorieklasse. Spesiale erkenning word toegeken aan leerders wat by kunskompetisies presteer gegee.
VAKATIWITEITE
Deelname aan jaarlikse kunsuitstalling, eisteddfod deelname, werkswinkels en nog vele meer.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Kunstenaar, modeontwerp, interieur-ontwerp, argitek, advertensie- en webontwerp, kunsonderwyser, kunskritikus, inligtingsontwerp en nog vele meer.
ONTWERP
BENADERINGSWYSE
In graad 10 word ʼn oorsig gedoen oor die vier hoof ontwerprigtings, nl. inligtingsontwerp, produkontwerp, oppervlakteontwerp en argitektuur.
TOELATINGSVEREISTES
Kreatiwiteit en ook die vermoë om buite die normale te kan dink, is nodig. Entoesiasme speel ʼn groot rol, ook ‘n liefde vir skep, verf en teken.
Die aankoop van sekere materiale soos gouache, potlode, kwaste, ontwerpbord en werksboeke, word vereis.
Daar is twee komponente nl. PRAKTIES EN TEORIE.
VAKAKTIWITEITE
Deelname aan uitstallings en Eisteddfod.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Reklame-ontwerp, animasie, digitale ontwerp, film en video, grafiese ontwerp, handelsmerkkommunikasie-ontwerp, industriële ingenieurswese, argitektuur, stedelike en landskapsontwerpers, binnehuiseontwerp, tekstielontwerp, modeontwerp, juweliersontwerp, illustreerders, verpakkingsontwerpers, fotograwe, multimedia, en vele meer.
DRAMATIESE KUNSTE
DRAMATIESE KUNSTE – WAT BEHELS ONS VAK?
Om voor ‘n groep mense te praat, veral as hulle onbekend is, is seker een van die senutergendste dinge wat daar is. Wat dit soveel meer intimiderend maak, is die wete dat die eindresultaat wat jy, of ander, graag sal wil hê, afhang van die wyse waarop jy jouself gaan uitdruk.
Die primêre doelwit van Wonnies se Drama Departement is om ons kinders te help om hulle kommunikasie-vaardighede en – vermoëns te ontwikkel en te verbeter (wat noodsaaklik is om sukses te behaal in elke aspek van die lewe).
Die doelwit wat egter parallel met bogenoemde loop, is om ‘n platvorm te bied vir leerders wie se passie die verhoog en filmkamera is.
LET WEL: ‘n Addisionele heffing word naas skoolgeld gehef.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Akteur, regisseur, klankingenieur, beligting, teater-produksies, motiveringspreker.
DANSSTUDIES
TOELATINGSVEREISTES
Leerlinge kan nie in graad 10 eers met DANS as vak begin nie, daarom moet leerlinge reeds in graad 8 en 9 dans as vak geneem het.
Voldoende talent, fokus en doelgerigtheid is ‘n voorvereiste. Oudisies word afgelê.
DOELSTELLINGS:
- Die skep en aanbied van dansproduksies vorm ‘n belangrike komponent van hierdie vak.
- Die ontwikkeling van verskillende danstegnieke en dansstyle soos kontemporêr, jazz en ballet – Die leerder moet vaardighede aanleer om haar styl en tegniek te verbeter. So word hy/sy ‘n beter danser.
- Reflekteer die teorie van dans met betrekking tot musiek, dansgeskiedenis en gesondheidsorg.
- Om leerders te begelei tot hoër kennisvlakke en ‘n grondige insig en begrip van die basiese beginsels van die vak sodat dit hom/haar sal voorberei en toerus vir verdere opleiding/studies.
INGENIEURSGRAFIKA EN -ONTWERP (IGO)
SPESIALE VEREISTES
LET WEL: Leerders wat die vak neem, moet die verpligte voorgeskrewe werkboek, handboek, tekengereedskap en tekenbord aankoop alvorens met die vak begin word.
BENADERINGSWYSE
Voorwerpe uit die omgewing en nywerheidswêreld word gekonstrueer, meetkundig bepaal, drie-dimensioneel voorgestel, ontwikkel, ens. Die fisiese gebruik van tekengereedskap en –bord word vereis.
KURRIKULUM
Interpretasies, konstruksies, tekenvaardighede, projeksies, prentaansigte, skaaltekene: meganiese samestellings en siviele werkstekene, perspektief en 3D tekene.
VAKAKTIWITEITE
Kopieer en vervaardig modelle, bring die praktyk na die klaskamer met behulp van navorsing en praktiese take. Probleemidentifisering en probleem-oplossing. Ontwerpproses en tekenuitlegte.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Alle ingenieursrigtings, argitektuur, ingenieursontwerper, tekenaar, opmeter, bourekenaar en nog vele meer. Universiteit graadkursusse, uitstekende entrepreneursmoontlikhede soos byvoorbeeld die teken van huisplanne, ontwerpe ens.
GASVRYHEIDSTUDIES
TOELATINGSVEREISTES
‘n Beperkte aantal leerders kan toegelaat word na gelang van die beskikbare infrastruktuur.
SPESIALE VEREISTES
LET WEL: Leerders is verplig om prakties tydens restaurantaande en na-ure te doen.
BENADERINGSWYSE
Die vak stel die leerders in staat om:
- vaardig te wees in die voorbereiding van voedsel en om kreatief te wees met die opdien daarvan
- basies entrepreneurskap in die voedselbedryf te ontwikkel
- kulturele verskille in kulinêre studies aan te spreek en
- om tegnologie aan te wend tot voordeel van die omgewing, gesondheid en veiligheid van ander mense in die hotelbedryf.
- Die vak bevorder spanwerk, selfdissipline en onafhanklikheid.
VAKAKTIWITEITE
- Voedselvoorbereiding en diens in die opleidingsrestaurant.
- Uitstappies na instansies wat verband hou met die gasvryheidsbedryf.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Chef de Cuisine, verskillende chefsposisies, hotelbestuur en enige ander betrekking in ‘n hotel, buitelandse poste in die hotelbedryf, entrepreneurs-moontlikhede soos eie restaurant, koffiehuis, gastehuis, spyseniering, ens.
TOERISME
BENADERINGSWYSE
Die prakties en teoreties hantering van Toerisme, sowel as portefeuljewerk wat ‘n praktiese komponent insluit.
KURRIKULUM
- Toerisme as ‘n interverwante stelsel met al die komponente van toerisme, rolspelers in die toerisme-industrie en navorsing oor werks- en beroepsgeleenthede.
- Verantwoordelike- en volhoubare toerisme, gemeenskaps-deelname, ontgin toerisme-potensiaal in eie gemeenskappe, erfenisterreine en die belangrikheid van kulturele, natuurlike en geskiedkundige erfenis.
- Toerisme-geografie, attraksies en neigings word bestudeer.
- Kliëntediens en kommunikasie, asook ‘n professionaliteit in ‘n toerisme konteks.
- Bemark binnelandse toerisme en maak toerisme toeganklik vir alle Suid-Afrikaners tot voordeel van die hele land.
- Wêreldtoerisme-ikone en ligging.
- Vervoerdienste in Suid-Afrika en berekening van reiskoste, buitelandse valuta-berekeninge.
- Evalueer die Suidelike Afrikaanse Ontwikkelings-gemeenskapslande as toerisme-bestemmings.
- Aanbieding van globale geleenthede in ‘n toerisme-konteks.
VAKAKTIWITEITE
Binnelandse toere en vakuitstappies.
BEROEPSMOONTLIKHEDE
Toeristegids, toeroperateur, bestuur in die gasvryheidsbedryf,
ontspanningsbedryf, bewarings- en ekotoerisme, sport- en rekreasiebestuur.